‘Hi, Edward. Dis Cindy.
Kan jy more kom?’
‘Ja, mies.’
‘Baie dankie. Dit reën baie.
Die gras is lank en hier is ‘n muur wat ons moet verf.’
‘Dis reg mies.’
‘Okei Edward, sien jou
more. Mooi bly.’
‘Dis reg mies.’
Edward daag 8 uur die oggend
op. Half krom van die ouderdom.
A hardloop in die gang af, al
skreeuende: ‘Oom Edeeeeward, oom Edeeeward.’
‘Hallo Kleintjie. Hoe is die
skool?’
‘Goed. Wat doen jy? Kan ek
jou help? Waar kry jy jou sak? Wat is daarin?, stort A sy gewone vloed van vrae
op ons uit.
Edward kyk die spul bokse in
die motorhuis uitdrukkingloos aan. ‘Ons
gaan trek,’sê ek nodeloos. Edward vra
waarheen en ek gee rigtings en name.
Ek voel onverwags groot
klonte hartseer in my keel vassteek. ‘Ek
gaan jou mis, Edward.’
‘Dis reg mies.’
A skree al die pad skool toe:
‘Ek wil oom Edeeward help.’
Verdwaalde trane rol so nou
en dan oor my wange.
Ek onthou hoe my pad met
Edward begin het. Ek het altyd die bure se pragtige gesnyde gras met
bewondering beny. My vervreemde man het
een week kante gesny en een week gras, wat in die somer vir ‘n armlastige
prentjie gesorg het. Hy het geweier om hulp te kry en ook geweier om ‘n
behoorlike poging aan te wend – selfs te midde van die feit dat hy vir maande
werkloos was en bleikbaar sy tyd spandeer het om vir hom iemand te soek om ‘n
verhouding mee te hê in sy tyd by die huis.
Hierdie is nie sy storie nie.
Na hy die huis verlaat het,
het ek Edward hangkop gaan opsoek.
Edward was eers maar suur en onvriendelik. Hy het egter ingestem om my
elke Dinsdag te kom help. Met rooi oë het ek menigte oggend die motorhuis se
afstandbeheer oorhandig. Die gras het egter geblom.
Edward het stadig maar seker
sy hart vir my oopgemaak. Ek het begin merk dat iemand vir my die vuilgoedblik
uitstoot en terugbring wanneer ek vergeet. Die blomme het ook water gekry by ‘n
geheime engel, op die dae wat hy by die bure gewerk het.
Terug by die huis wys Edward
vir my die wheat eater se kabel en sê
ek moet baie gaan koop want hy gebruik die bure s’n by my en gaan dit moet terugsit.
Ek ry deur die strate en kyk na al die landmerke waarby ek elke dag vir die
laaste jaar verby gery het. It was the best of times it was the worst of
times. Ek dink aan iets wat Friedrich Nietzsche gesê het – van
hoe mense wat werklik karakter het met tragedie en uitdagings in hulle lewens
speel as eksperiment en kyk wat hulle kan word daardeur. Ek wonder of ek een
van hulle is. Hierdie is nie my storie nie.
Edward bedank my vir die
kabel en laat my weet daar is geen swartsakke nie. Ek ry glimlaggend terug na
die supermark, vertroos deur hierdie gemaklike roetine tussen ons.
Edward verander die gras vir
oulaas in iets gelyk aan ‘n golfbaan. Hy verf ‘n muur en maak ‘n paar gate toe.
Toe hy begin regmaak om te
gaan, staan ek beteurterd rond. Iets tussen ons is net nie afgehandel nie.
‘Hierdie huis is te groot vir my, Edward. Ek en A moet na iets kleiner kyk.
Hier trek ander mense in. Ek het vir hulle gesê van jou en ek dink hulle sal
ook wil hê jy moet vir hulle werk. Ek het sommer gesê wat ek jou betaal ook.’
‘Dis reg mies. Is hulle goeie
mense?’
‘Dit weet ek nie, Edward. Ek
weet regtig nie.’
No comments:
Post a Comment